Street Art by Banksy in Palestine
Street Art by Banksy in Palestine

'n Oplossing vir Palestina en Israel

Breek dit af
Breek die mure om jou af - uit “Tronk” deur Johannes Kerkorrel

Ek lees gister ‘n quote wat ek tien teen een nou verkeerd gaan herhaal maar dis iets soos “Heroes die young, the rest of us grow old to become the villain”.  Ek dag, wow cool dis diep, toe sien ek dit kom van the Dark Knight af en somehow was ek nie surprised nie.  

Ons het ons stories nodig om vandag se realiteite vir ons klein te kry.  Realiteit is net eenvoudig te groot, te veel, te bloeddorstig, te harteloos om te verstaan.  So ons skep ‘n verhaal waarin ons nader daarheen kan beweeg sonder om seer te kry, want dit is en bly net ‘n verhaal.

Maar die wonderlike wêreld van verhale maak ‘n nuwe Pandorasdoos oop.  Verhale is fiksie, maar omdat daar so baie mense is om verhale op te slurp, is dit ook moontlik vir ‘n verhaal om so populêr te raak dat mense dit met die waarheid begin verwar.  ‘n Verhaal wen legitimiteit met die aantal kere wat dit oorvertel of gepubliseer word.  

Op hierdie manier is die geskiedenis van Moses in die Bybel “waarheid”, want daar is doodeenvoudig te veel mense wat dit glo, desnieteenstaande talle teenstrydighede in die verhaal wat dit onmoontlik maak om as ware geskiedenis te interpreteer.  

Daarteenoor bly Batman fiktief en word Batman-fiksie ‘n Trojaanse perd wat heelwat waarhede insmokkel.  Soos dat gister se helde in booswigte ontaard as hulle dit regkry om lank genoeg aan die lewe te bly.  Dit bring my by Israel wat ‘n transformasie van aard ondergaan het en te leer uit die geskiedenis om as’t vandag meer te lyk soos die Nazis wat die Jode voorheen onderdruk het.

Wat my bring by Roger Waters se Perfect Sense waar hy sing:
“And the Germans kill the Jews
And the Jews kill the Arabs
And the Arabs kill the hostages”

Dit maak eenvoudig sin veral as jy kyk na wat 7 Oktober gebeur het. ‘n Afskuwelike aanval op Israel deur Hamas waar vrouens, kinders en mans voor die voet afgemaai is. Hierdie afgryslike geweldpleging, kan as niks minder as ‘n massa terroristiese aksie veroordeel word nie. Na raming is meer as 250 Joodse en internasionale gyselaars met geweld geneem. ‘n Bloedstollende gedagte, met Roger Waters se woorde wat maal in die agterkop.

Maar as die mensdom uit die geskiedenis leer, waar het Hamas geleer om so horribaal verskriklik te wees? In 1947-1948 is dit presies wat ‘n groep Zionistiese Jode aan die Palestyne gedoen het.  

In ‘n memorandum, “Jewish Atrocities in the Holy Land” voorgelê aan die VN in 1948 word duidelik uiteengelê hoe Jode “indiscriminately massacred civilians, old men, women and children of all ages. Jews bayoneted pregnant women. Jews cut children to pieces before their mothers’ eyes, then killed the mothers…. Jews shot and killed nurses. Jews in Haifa killed, mutilated and crucified Arab prisoners and wounded.”

Bloeddorstige aksies uitgevoer deur Jood op Palestyn word 70 jaar later op soortgelyke wyse deur Palestyn op Jood uitgevoer. Om die sirkel te voltooi antwoord Israel op ‘n wyse soortgelyk as wat die Nazis uitgevoer het op Jode.

Gaza word omhein deur Israel. Geen Palestyn mag die grens oorsteek nie, selfs nie eers na Egipte toe nie. Israel sny die water-, voedsel en elektrisiteittoevoer af en begin bombardeer. Eers in die Noorde. Versprei die nuus dat burgers moet vlug na die Suide en begin dan om die Suide te bombardeer.

Gaza is vandag ‘n konsentrasiekamp waarin mense van ‘n spesifieke etnisiteit soos diere in ‘n veldbrand vasgekeer sit. Met die bomme wat Israel laat reën in die gebied, word hierdie konsentrasiekamp ‘n opelug gaskamer, met paniekbevange, geteisterde Palestyne wat nie eers meer weet watter kant toe om te beweeg om te gaan sterf nie.

So hou die mensdom tog aan om te leer uit die geskiedenis. Moordlustige lesse van geweld om weer en weer toe te pas op díé wat as ondergeskik en minder mens gesien word. Wat my terug bring huis toe.

Suid-Afrika was, soos ons almal weet, gedurende apartheid in ‘n posisie waar polities gemotiveerde geweld heeltyd uitgebreek het. Alles verstaanbaar gegewe die onregverdige ondrukking van rassegroepe. Maar kyk waar sit ons nou? Vandag sit Suid-Afrika in ‘n toestand van relatiewe vreedsame bestaan veral vergeleke met die krisis in die Midde-Ooste.  

Daar is sekerlik mense wat dit sal bevraagteken met stellings dat daar ‘n oorlog teen wit mense tans in SA gevoer word. Ek is seker ons het al almal die vraag: “maar wat dan van plaasmoord?” raakgeloop iewers aanlyn waar ons onsself al meer bevind. Net om die perspektief aan die situasie te verleën is dit nodig om te noem dat daar in Palestina in minder as twee maande meer onskuldige Palestynse kinders wreed gesterf het as die getal wit boere wat die afgelope 10 jaar in SA vermoor is.

Dit gesê, bly dit altyd nodig om te noem dat plaasmoord ‘n ontsettende hartseer tragedie is wat ten sterkste veroordeel moet word soos alle moord, ongeag die kleur van die slagoffer. Die moordsyfer in  Suid-Afrika is onrusbarend, maar die situasie is geensins ‘n oorlogstoestand vergelykbaar met talle oorloë in lande soos Oekraïne en Israel/Palestina, Burkina Faso, Afghanistan, Sudan, Yemen en ander nie.  

Suid-Afrika is ook heelwat meer vreedsaam vergelykbaar met ‘n Suid-Afrika wat kon gewees het as ons nie die pad van versoening geloop het nie. Stel jouself vir ‘n oomblik voor, ons wit kinders en broeder opgeroep na ‘n weermag in aanslag teen ons swart en bruin broeders. Kinders  in ons eie land voor die voet afgemaai om ‘n wit minderheidsregering vandag nog in mag te hou. Hoe lank sou daai lys gestorwe soldate, seuns van treurende moeders nie gewees het nie? Die SAUK nuus van ouds sou weereens gemaak het asof  bruin en swart kinders wat uitmekaar geskiet is, se stukkende liggame en hul moeders se pyn niks beteken nie.

As Israelis en Palestyne maar net liewer van Suid-Afrika se geskiedenis kon leer in plaas van die Nazis en die Zionistiese Joodse terroriste onderskeidelik, dan sou apartheid tussen Jode en Palestyne opgehef kon word. Nasiebou sou kon geskied in die gebied. Natuurlik nie sonder stampe en stote nie, maar een nasie met verskillende groepe.

Die “tweestaat” droom sal nooit die opheffing van ongelykheid tussen nasies in die gebied teweeg kan bring nie. Nie terwyl een groep al die hulpbronne tot hul voordeel bestuur en al die reëls maak nie.

Die enigste pad na ‘n toekomstige vrede in die gebied is ‘n enkel staat waar verskillende groepe mense ten minste as gelykes voor die wet beskou word. Jood, Palestyn, Christen en alle ander groepe woonagtig in die gebied, moet kan deelneem in dieselfde verkiesings. Verdedig word deur dieselfde militêre mag. Hulpbronne moet aangewend word ten bate van almal in die gemeenskap en nie oop- en toegedraai word as wapen nie.  

In kort, Israel en Palestina moet saamsmelt en een nuwe land word. Met ‘n nuwe identiteit. Solank dit nie gebeur nie, sal daar nooit vrede oor daardie stukkie aarde heers nie.