Blog: Riku's Write
Is daar vandag ‘n almagtige Vader wat die mensdom op die regte pad hou? Of is ons maar aan onsself oorgelaat om ons lewenspaadjies te kies? En as God deesdae met ons sou praat, hoe ontvang mens daai woorde? Wie hoor waarlik die ware woord van God direk van God af? Oom Angus? Rooies? Winckler? Wiid? Hoor jy dit self? En is dit werklik God wat praat?
Elke keer as ek iets hoor van wat God gesê het, is dit maar gewoonlik uit ‘n ander mens se mond uit, of ‘n boek wat ‘n ander mens geskryf het. ‘n Uitverkore mens wat vir ander mense sê God praat met hom of haar. ‘n Mens wat woorde in God se mond plaas.
Wat is meer realisties om te glo, dat die een ware God lang gesprekke met oom Angus voer? Kan dit werklik waar wees? As God werklik met oom Angus praat, hoekom skryf hy nie nog Bybel nie? Die Derde Testament? Moenie God se Woord so ongehoords en ongesiens verby laat gaan nie.
Wanneer iemand vir my sê dat God se woorde uit sy mond kom, gaan ek hom nie goedsmoeds glo nie. Is daai woorde werklik God se woorde? Of het jy dit uit jou duim uit gesuig om heiliger as hier te klink? Sorrie. Om dit aan te wend vir haar sedepreke sou sy kon raai, maar Wiid weet nie werklik wat is die ware woord van God nie.
So waar hoor mens vandag die w are woord direk van God af? Die voor die handliggende antwoord op my probleem is die Bybel. Die ware woord van God ís mos die Bybel, of hoe redeneer ek dan nou? As ek dus wil weet wat God sê, moet ek die Bybel lees. Want dis mos die woord van God, of hoe?
Wel, hier spartel ons nou weer met die gewaarwording dat die Bybel, hoog aangeskrewe soos dit is vir ewige sielsaligheid en ‘n padkaart tot moraliteit, is weereens nie die ware woord van God nie, maar die vermeende “ware” woord van God, soos neergepen deur ‘n klomp Joodse ou omies.
Niemand het ‘n ooit ‘n ooggetuie geken wat gesien het hoe God self die Bybel skryf nie. So hoekom kry die Bybel dit reg om met die onbewysbare dog betwisbare statussimbool om te gaan as die Woord van God? Die duidelik ‘n mensgemaakte boek, vanwaar die verhewe status? Van die Bybel self? Of uit die feit dat miljarde dit glo?
As jy vir Google vra: how many christians in the world dan sê sy blitsvinnig met outoriteit “2.38 billion”. Hoe weet google dit? Raadpleeg sy dalk direk vir God?
Ek vermoed Google tel onder daai 2.38 miljard heelwat mense wat wel uit histories Christen gemeenskappe kom, maar nie self Christene is nie. In my mening is die ware syfer Christene nog laer, maar ek kan dit nie bewys nie, so kom ons gaan dan maar met die woord van Google.
Vra vir Google hoeveel mense daar is in die wêreld hoeveel mense in die wêreld en net so vinnig vertel sy jou daar is 8.1 miljard. Trek dan af daai 2.38 miljard en ons sit met 5.72 miljard wat nie glo die Bybel is die woord van God nie.
Dit beteken dat, as jy wil hê die Bybel moet die woord van God wees omdat baie mense so sê, is die Wiskunde nie aan jou kant nie. ‘n Ding word nie meer waar omdat meer mense dit glo nie. Dit word waar, of verkeerd, bewys wanneer dit getoets word. 2.38 miljard opinies bly steeds maar opinies.
Die Bybel self kan nie bewys dat dit die woord van God is nie, net soos ‘n lemoen nie kan bewys dat sy eintlik ‘n appel is net omdat sy so sê nie. Al wat die Bybel kan bewys is dat daar eens op ‘n tyd ‘n klomp mense was, wat woorde oor God en die wêreld geskryf het.
Baie van daai woorde oor die wêreld is verkeerd bewysbaar, soos dat die wêreld in 6 dae geskep was en dat daar ‘n vloed was wat die hele wêreld onder water gehad het met net een boot met twee van al die diere op aarde daarin. As die Bybel dus nie altyd die waarheid praat oor die wêreld nie, hoekom moet ons glo dat die Bybel altyd die waarheid praat oor God?
Almal het ‘n reg tot sy eie geloof. Dit beteken ook dat niemand die geloof van ‘n ander as die waarheid hoef te aanvaar nie. En waarheid in religie is nie werklik soos waarheid in die regte lewe nie. Daar is altyd so bietjie hoop en opinie in religieuse waarheid wat nie in werklike waarheid plek kan vind nie. Daai tipe waarheid wat jou God die ware ware God maak en nie die ander ware God van iemand anders nie.
Ons almal weet diep in ons harte, al gaan ons almal dit nie erken nie, oom Angus maak woorde wat hy hoor van God self op. Net soos die Joodse ou omies wat die Bybel geskryf ook daarin God se woorde opgemaak het.
Natuurlik is baie van die Bybelskrywers gelei deur ‘n lang geskiedenis van oorvertelde verhale wat hulle eintlik op die ou end maar net neerskryf. Maak dit egter die saak vir die waarheid van die Bybel sterker dat dit spruit uit jare en jare se oorvertellings?
Almal weet oorvertellings lei tot alternatiewe verhale wat weer lei tot teenstrydighede. Byvoorbeeld daar is twee verskillende skeppingsverhale in Genesis. In Genesis 1 skep God die aarde in 6 dae en duidelik eers die plante voor Hy mens skep. In Genesis 2 skep God eers vir Adam en daarna skep Hy die tuin van Eden om hom daarin te plaas. Daar is ook geen sprake van ‘n 6 dag-skeppingsposes nie.
Daar is duidelik meer as een skrywer wat gewerk het aan Genesis en hulle was nie eens hoe dinge verloop het in die begin nie. Dinge raak egter nie beter na mate meer en meer boeke van die Bybel verskyn nie.
In Genesis 32:30: “en Jakob het die plek Pniël genoem, ‘want,’ het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.” Maar die Bybel sê Jakob lieg, want Johannes 1:18 is dit duidelik: “Niemand het God ooit gesien nie.”
Daar is net te veel teenstrydighede in die Bybel wat selfs sommige teoloë sal erken dat ons liewer die gees van God moet ervaar as wat ons elke woord letterlik moet interpreteer. Johannes 1:18 doen ook nie veel om die geloofwaardigheid van oom Angus se gesprekke met God te ondersteun nie, maar mens kry die gevoel dat oom Angus goed bedoel. Moet ons hom nie maar toelaat om sy verbeeldingsvlugte aan te wend om die mensdom na die regte pad te lei nie?
Kom ons kyk bietjie na paar wat oom Angus sê ek weeg dit om te sien of dit universeel aangewend kan word om ons almal te lei. Oom Angus sê: “we need a Christian government”. Is dit werklik gewens? Demokrasie so vol foute as wat dit is, is steeds beter as outokrasie, selfs religieuse outokrasie. Of so vermoed ek voel meeste mense, ek het beskik nie oor die syfers om te kan sê presies hoeveel mense sou ‘n religieuse regering verkies nie. Ek weet wel daar is reeds ‘n Christelike party en hulle doen maar bra power.
Dan sê Buchan homoseksualiteit kan genees word. Dis nogal ‘n venynige belediging om mense wat lief is vir iemand van hul eie geslag te doop as “siek”, is dit nie? ‘n Buchan regering in sal duidelik nie goed wees vir almal nie, maar dis ‘n demokrasie so as hy so regering wil sien, is dit sy volste reg om homself verkiesbaar te maak. Ek sal nie vir hom stem nie.
Miskien doen ons dit heeltemal verkeerd om. Miskien moet ons liewer kyk na regerings waar God die politiek regeer (in die mate wat dit werklik moontlik is deur middel van mense, want soos ek argumenteer, geskied selfs God’s regering op aarde deur maar deur middelmanne. (En ek mag se “manne” want ek is nie bewus van enige van God se regerings op aarde wat deur vroue geadministreer word nie.))
Sharia regerings sluit in Saudi Arabië, Pakistan, Afghanistan, Iran, Irak, Jemen, Soedan. Wie enige van hierdie lande se regerings wil verdedig as beter as sekularistiese regerings is welkom. Ek kan nie, en ek gaan nie.
Vandag is daar net een Christelike teokrasie in die wêreld en dis die Vatikaanstad met ‘n populasie van minder as ‘n duisend mense. Sal elke land in die wêreld nie droom om so welvarend te wees soos die Vatikaan nie. Mense kan maar self debatteer of God heers oor Vatikaanstad en of dit die pous is, maar dis duidelik, met die rykdom wat die Rooms-katolieke kerk oor die eeue versamel het, daar word nie juis gesukkel nie. Dis egter soveel van ‘n uitskieter verskynsel dat dit nie vergelyk kan word met enige ander regering nie.
Dan is daar Israel. ‘n Joodse staat. Is dit ‘n demokrasie? Ja hulle stem, maar wie stem? Amerika en Israel gee voor Israel is ‘n demokrasie en hulle verkoop gereeld Israel as die enigste demokrasie in die gebied. Maar soos Joshua Leifer dit stel: mense “misrecognize Israel as democracy when it is, in fact, a liberal ethnocracy that has maintained a military dictatorship in the West Bank for more than half a century.” (bron: The Gaurdian: israel-hasnt-been-a-democracy-for-a-long-time-now-israelis-need-to-face-this-fact
Leifer se woorde kom uit ‘n vroeër era, etlike maande voor Oktober 7 toe hy waarsku: “the absence of real democracy continues to undermine the country’s political stability”. Eenvoudiger dae.
So watter rol speel God in Israel se etnokasie? Regeer God vir Israel? Weereens hou ek vol, dis mense wat Israel regeer en jou sal vertel hulle doen dit in die naam van God.
Dit wat tans gebeur in Gaza is wel baie Bybels. In Amos 1:7 en 8: “Daarom sal Ek binne die mure van Gasa 'n vuur laat losbreek
en dit sal sy mooi huise verteer… en die Filistyne wat nog oor is, sal omkom, sê die Here my God”
En in Deuteronomium 7:1 en 2: ”Die Here jou God sal jou bring in die land waarheen jy op pad is en wat jy in besit sal neem. Hy sal baie nasies voor jou uit verdryf… in jou mag oorgee en jy hulle verslaan, moet jy hulle om die lewe bring as banoffer aan die Here jou God. Jy mag hulle nie jammer kry en 'n verbond met hulle sluit nie”
In Joshua 6:21 is die Godgesanksioneerde etniese suiwering totaal: “en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud”. In 1 Sameul vertel Sameul vir Saul “die woorde van God”: in 1 Sameul 15:3 “Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie”. En dit is presies wat vandag besig is om in Gaza te gebeur.
Israel is besig om die woorde van God uit te voer soos dit in die Bybel opgeskryf staan in die Ou Testament. En dit is die rede hoekom daar soveel gelowige mense absoluut ekstaties is oor die mensslagting in Gaza vandag. As dit ‘n moeilike gedagte is om te glo, ek het die bewyse swart op wit van ‘n persoon wie se naam ek nie gaan nie noem nie, want soortgelyk soos Jesus gesê het, vra ek, vergeef hom want hy weet nie wat hy doen as hy sê: “Ek kan nie wag tot Gaza finaal uitgewis is nie.”
Ek weet dis ‘n ongemaklike vraag wat nie veel mense wil vra nie, maar die tyd het gekom dat ons dit net eenvoudig moet vra. Is dit ‘n alomteenwoordige almagtige God wat spesifiek sekere mense van sy eie skepping wil uitmoor? Of dit die spesifieke mense wat die spesifieke boeke oor God geskryf het wat wil hê dat ons moet dink dit is wat God wil hê?
As dit kom by Israel se massamoord moet ons onthou: Die Bybel is geskryf deur mense met persoonlike belange op die spel.
Omdat dit wat vandag in Gaza gebeur so ongelooflik verskriklik is en omdat dit letterlik woord vir woord presies so in die Bybel beskryf word, vermag dit basies een ding. Dit onbloot die Bybel se immoraliteit. Dit ondermyn die Bybel se gesag as ‘n universele boek wat op almal van toepassing is.
Die Bybel, of liewer dan, die Ou Testament is nie vir almal nie. Dis ‘n stel boeke geskryf deur Jode met ‘n God wat net belang stel in die geskiedenis en voortbestaan van Jode.
Die God van die Ou Testament is definitief nie ‘n universele God nie. Dit is ‘n hoogspartydige God wat geen belange het by die res van sy skepping nie. Dis net Jode wat saak maak.
Dit maak vir my minder sin om na so god te verwys as God. Die meer akkurate beskrywing van YHWH is die vergestalting van die kollektiewe ego van ‘n heel spesifieke groep waaruit hulle gesag kan fabriseer wat hul kollektiewe belange bo die van alle ander stel dat hul ander kan vernietig en uitwis sonder dat hul kan veroordeel word daarvoor.
YHWH is Jode se gesag waarmee hul ander mag minag en vermoor. Dis nie God nie, dis ‘n volk se get out of jail ticket, of om ‘n nuwe Afrikaanse woordskepping te gebruik: YHWH is die Jode se immoraliteit-immuniteit en Israel buit dit uit.
Jesus, ten spyte van sy Joodse herkoms, bring die verandering wat nodig was vir die Ou Testament om relevant te wees nie net vir Jode nie, maar vir almal. Die wegbeweeg van ‘n oog vir ‘n oog na draai die ander wang. Weg van ‘n god van volksmoord, slagting en beloofde lande oorhandig waarin daar reeds ander mense woon, na ‘n god van liefde en kom ons almal leef saam, deel kos en leer selfs van die Samaritaan.
Om sin te maak van hierdie transformasie is dit nodig om die geskiedenis in ag te neem van wat gebeur het in daardie wêreld in daardie tyd. Die Romeinse Ryk aan bewind waarin daar talle gode toegelaat was, maar alles en almal moes noodwendig onderhewig wees aan die gesag van die keiser.
Vir die klein Joodse volk met hul god YHWH wat ‘n jaloerse god was, is hierdie onderhewig wees aan die keiser se gesag onaanvaarbaar vir hul god. Daarom die Joodse opstand. ‘n Jong man wat voor die Romeinse owerhede staan met die titel koning van die Jode, het nie ‘n kat se kans anders as om gekruisig te word nie. Jy wil jouself kom koning noem van die groep wat nie die Romeinse gesag as die hoogste gesag wil respekteer nie?
Op ‘n pad na Damaskus in die Romeinse Ryk reis ‘n religieuse fanatiese Jood Saulus om die beweging vanuit Joodse geledere wat die leringe van Jesus begin verkondig te veroordeel en uit te wis. Saulus was selfs by en betrokke met die steniging van Stefanus.
Hierdie Saulus hoor die stem van God en verander dadelik sy van die Hebreeuse vorm Saulus na die Romeinse vorm Paulus en blaai ‘n nuwe blaadjie om: in stede dat hy vroeë Christene vervolg, word hy die hoof-Christen en verkondig die woord met groot sukses tot vandag toe nog.
Paulus, nes oom Buchan, vertel dat God met hom praat en wat God vir hom sê is om ‘n nuwe storie te vertel van die nuwe vergestalting van God, minder oorlogsbehep, met minder klem op al die ou Joodse wette letterlik na te kom en ‘n nuwe konsep kom na vore, naasteliefde: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Mat 22:39.
Seker die belangrikste aspek van hierdie nuwe vergestalting van God is dat die naaste van die Nuwe Testament meer is as net die Jode van die Oue. Vir hierdie nuwe God is dit moontlik om god te wees vir almal. ‘n Belangrike eienskap, en nodig vir vrede, in ‘n pluralistiese Romeinse Ryk.
Hierdie god sê ook gee die keiser wat hom toekom. Baie beter vir die Romeinse Ryk as ‘n god wat hoër wil wees as die keiser self.
Bybelgeskiedkundiges beweer van die evangelie dat alhoewel dit die name van Jesus se dissipels dra, dit nie deur hulle geskryf is nie. Jesus se dissipels was nie juis geleerde mense nie, en het Aramees gepraat, terwyl die evangelie deur geleerde skrywers in Grieks geskryf is.
Ons praat dus hier van ‘n tradisie van oorvertelling en wie ook al die boeke op die ou en neergeskryf het het dit minstens ‘n Bybelse leeftyd (40 jaar of meer) na Jesus se dood gedoen.
Markus is die eerste evangelie wat verskyn het so teen die jaar 70AD, Johannes die laaste so tussen 90 en 100AD. Hierdie Bybelskrywers skryf in ‘n tydperk van Romeinse oorheersing direk na die val van die Joodse tempel waar nuwe keiser Vespasian en sy seun Titus sopas ‘n oorweldigende en verpletterende oorwinnings oor die Jode behaal het.
Dis in hierdie tyd en plek waar, uit die ou Joodse geloof, ‘n nuwe narratief vorm wat duidelik heelwat meer pro-Rome is. Toeval?
Wie het hierdie Bybelskrywers in hierdie tyd onderhou? En as Paulus sy brief aan Filippense afsluit sê hy: “Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete.” Filippense 4:22.
In die Romeinse Ryk is Jode gekruisig het wat teen die gesag van die keiser opstaan. Die Jode was juis hierdie opstandelinge, en daar is heelwat gerkuisig. Sodra die Romeine weet jy met die titel “koning van die Jode” rondloop, is jy duidelik ‘n vyand van die staat en is kruisiging jou voorland.
In die Bybel is dit egter duidelik dat Pontius Pilates sy bes probeer het om Jesus vry te laat (Johannes 19:12 - 15) maar dit was die Jode wat aangedring het dat Jesus gekruisig moet word. Dit was die Jode wat gesê het: “Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.” Watter Jood verraai sy god so maklik om die keiser as oppergesag te aanvaar? Geen ware Jood nie, slegs die tipe denkbeeldige Jood wat deur Romeine uitgedink is.
Dis Romeine wat die weë na Damaskus in daardie tyd gepatrolleer het. Dis ook Romeine wat hul keisers in daardie tyd gedeïfieer het. So as die keiser met jou praat is dit so goed soos jy luister na die woorde van God. En as God vir jou sê laat vaar jou eng Joodse gewoontes en spits jouself toe op iets waarin ons almal kan glo, dan doen jy dit. En jy word ryk en jy tree af in ‘n lekker woonstel diep in die Romeinse Ryk en ons sê vir almal dis ‘n gevangeniskap terwyl ons weet dis eintlik ‘n “false witness protection program” om jou te beskerm teen al die Jode wat jou wil vermoor vir al die “fake nuus” wat jy versprei het. Lekker dra die keiser se knegte vir jou druiwe aan terwyl jou woorde stelselmatig die Joodse YHWH se mag op aarde erodeer. Daar tree die Romeinse Ryk selfs op godsgebied as wenner uit die stryd. Die woord van God is waarlik die gevaarlikste wapen op aarde.
In die Nuwe Testament sit ons met dieselfde ou probleem van voor af. Hierdie boeke is deur mense geskryf. Hierdie mense het politieke agendas gehad, asook mag en geleerdheid om op te kom met narratiewe wat hul eie immoraliteit herverwoord as God se wil.
Ek maak geen kleim dat God bestaan of nie bestaan nie. Al wat ek wel sê vir my is dit duidelik dat die Bybel ‘n boek is waamee die mensdom vorendag gekom het en is definitief nie direk die woorde van God nie. My woorde mag dalk nooit so poëties en wonderbaarlik wees soos enige iets uit die Bybel nie, en ek mag dalk gekruisig word daarvoor, maar dit beskik oor ‘n waarheid van outeurskap waaroor die Bybel nie beskik nie: Hierdie is verifieerbaar my woorde, my opinie. Sela
Imagine vir 'n oomblik Gaza is die Here se toets aan ons. Imagine die Here dink oukei goed, dis nou lank genoeg, Ek gaan iets aan plaasmoord doen. Maar voor Ek dit doen, kom ons toets die mense se empatie met ander om te sien hoe baie hulle dit verdien dat Ek hul lewens beter moet kom maak. Dan laat Hy Israel Palestynse kinders vermoor om te kyk of die mense wat elke dag vir Hom pleit ook empatie het met ander wat vermoor word. Dan kom die Here en sien hierdie selfde mense verlustig hulle in Israel se dade/moorde/kindermoordselfverdediging op Beeld se kommentaarblad. Op Beeld se blad is mense pro-moordenaars (Oscar/Israel) en kryt Palestynse kinders as terroriste uit wat dit verdien. Dan kyk Hy weer na die situasie met die oog, hierdie mense wat nie dink Palestynse kinders is onskuldig nie, wil hê Ek moet mense wat na apartheid met al die goeie landbou land sit (toegegee, almal moontlik heeltemal onskuldig aan enige iets apartheid) kom red? Hoe dink jy sal die Heer dan maak?
'n Oplossing vir Palestina en Israel
Breek dit af
Breek die mure om jou af - uit “Tronk” deur Johannes Kerkorrel
Ek lees gister ‘n quote wat ek tien teen een nou verkeerd gaan herhaal maar dis iets soos “Heroes die young, the rest of us grow old to become the villain”. Ek dag, wow cool dis diep, toe sien ek dit kom van the Dark Knight af en somehow was ek nie surprised nie.
Ons het ons stories nodig om vandag se realiteite vir ons klein te kry. Realiteit is net eenvoudig te groot, te veel, te bloeddorstig, te harteloos om te verstaan. So ons skep ‘n verhaal waarin ons nader daarheen kan beweeg sonder om seer te kry, want dit is en bly net ‘n verhaal.
Maar die wonderlike wêreld van verhale maak ‘n nuwe Pandorasdoos oop. Verhale is fiksie, maar omdat daar so baie mense is om verhale op te slurp, is dit ook moontlik vir ‘n verhaal om so populêr te raak dat mense dit met die waarheid begin verwar. ‘n Verhaal wen legitimiteit met die aantal kere wat dit oorvertel of gepubliseer word.
Op hierdie manier is die geskiedenis van Moses in die Bybel “waarheid”, want daar is doodeenvoudig te veel mense wat dit glo, desnieteenstaande talle teenstrydighede in die verhaal wat dit onmoontlik maak om as ware geskiedenis te interpreteer.
Daarteenoor bly Batman fiktief en word Batman-fiksie ‘n Trojaanse perd wat heelwat waarhede insmokkel. Soos dat gister se helde in booswigte ontaard as hulle dit regkry om lank genoeg aan die lewe te bly. Dit bring my by Israel wat ‘n transformasie van aard ondergaan het en te leer uit die geskiedenis om as’t vandag meer te lyk soos die Nazis wat die Jode voorheen onderdruk het.
Wat my bring by Roger Waters se Perfect Sense waar hy sing:
“And the Germans kill the Jews
And the Jews kill the Arabs
And the Arabs kill the hostages”
Dit maak eenvoudig sin veral as jy kyk na wat 7 Oktober gebeur het. ‘n Afskuwelike aanval op Israel deur Hamas waar vrouens, kinders en mans voor die voet afgemaai is. Hierdie afgryslike geweldpleging, kan as niks minder as ‘n massa terroristiese aksie veroordeel word nie. Na raming is meer as 250 Joodse en internasionale gyselaars met geweld geneem. ‘n Bloedstollende gedagte, met Roger Waters se woorde wat maal in die agterkop.
Maar as die mensdom uit die geskiedenis leer, waar het Hamas geleer om so horribaal verskriklik te wees? In 1947-1948 is dit presies wat ‘n groep Zionistiese Jode aan die Palestyne gedoen het.
In ‘n memorandum, “Jewish Atrocities in the Holy Land” voorgelê aan die VN in 1948 word duidelik uiteengelê hoe Jode “indiscriminately massacred civilians, old men, women and children of all ages. Jews bayoneted pregnant women. Jews cut children to pieces before their mothers’ eyes, then killed the mothers…. Jews shot and killed nurses. Jews in Haifa killed, mutilated and crucified Arab prisoners and wounded.”
Bloeddorstige aksies uitgevoer deur Jood op Palestyn word 70 jaar later op soortgelyke wyse deur Palestyn op Jood uitgevoer. Om die sirkel te voltooi antwoord Israel op ‘n wyse soortgelyk as wat die Nazis uitgevoer het op Jode.
Gaza word omhein deur Israel. Geen Palestyn mag die grens oorsteek nie, selfs nie eers na Egipte toe nie. Israel sny die water-, voedsel en elektrisiteittoevoer af en begin bombardeer. Eers in die Noorde. Versprei die nuus dat burgers moet vlug na die Suide en begin dan om die Suide te bombardeer.
Gaza is vandag ‘n konsentrasiekamp waarin mense van ‘n spesifieke etnisiteit soos diere in ‘n veldbrand vasgekeer sit. Met die bomme wat Israel laat reën in die gebied, word hierdie konsentrasiekamp ‘n opelug gaskamer, met paniekbevange, geteisterde Palestyne wat nie eers meer weet watter kant toe om te beweeg om te gaan sterf nie.
So hou die mensdom tog aan om te leer uit die geskiedenis. Moordlustige lesse van geweld om weer en weer toe te pas op díé wat as ondergeskik en minder mens gesien word. Wat my terug bring huis toe.
Suid-Afrika was, soos ons almal weet, gedurende apartheid in ‘n posisie waar polities gemotiveerde geweld heeltyd uitgebreek het. Alles verstaanbaar gegewe die onregverdige ondrukking van rassegroepe. Maar kyk waar sit ons nou? Vandag sit Suid-Afrika in ‘n toestand van relatiewe vreedsame bestaan veral vergeleke met die krisis in die Midde-Ooste.
Daar is sekerlik mense wat dit sal bevraagteken met stellings dat daar ‘n oorlog teen wit mense tans in SA gevoer word. Ek is seker ons het al almal die vraag: “maar wat dan van plaasmoord?” raakgeloop iewers aanlyn waar ons onsself al meer bevind. Net om die perspektief aan die situasie te verleën is dit nodig om te noem dat daar in Palestina in minder as twee maande meer onskuldige Palestynse kinders wreed gesterf het as die getal wit boere wat die afgelope 10 jaar in SA vermoor is.
Dit gesê, bly dit altyd nodig om te noem dat plaasmoord ‘n ontsettende hartseer tragedie is wat ten sterkste veroordeel moet word soos alle moord, ongeag die kleur van die slagoffer. Die moordsyfer in Suid-Afrika is onrusbarend, maar die situasie is geensins ‘n oorlogstoestand vergelykbaar met talle oorloë in lande soos Oekraïne en Israel/Palestina, Burkina Faso, Afghanistan, Sudan, Yemen en ander nie.
Suid-Afrika is ook heelwat meer vreedsaam vergelykbaar met ‘n Suid-Afrika wat kon gewees het as ons nie die pad van versoening geloop het nie. Stel jouself vir ‘n oomblik voor, ons wit kinders en broeder opgeroep na ‘n weermag in aanslag teen ons swart en bruin broeders. Kinders in ons eie land voor die voet afgemaai om ‘n wit minderheidsregering vandag nog in mag te hou. Hoe lank sou daai lys gestorwe soldate, seuns van treurende moeders nie gewees het nie? Die SAUK nuus van ouds sou weereens gemaak het asof bruin en swart kinders wat uitmekaar geskiet is, se stukkende liggame en hul moeders se pyn niks beteken nie.
As Israelis en Palestyne maar net liewer van Suid-Afrika se geskiedenis kon leer in plaas van die Nazis en die Zionistiese Joodse terroriste onderskeidelik, dan sou apartheid tussen Jode en Palestyne opgehef kon word. Nasiebou sou kon geskied in die gebied. Natuurlik nie sonder stampe en stote nie, maar een nasie met verskillende groepe.
Die “tweestaat” droom sal nooit die opheffing van ongelykheid tussen nasies in die gebied teweeg kan bring nie. Nie terwyl een groep al die hulpbronne tot hul voordeel bestuur en al die reëls maak nie.
Die enigste pad na ‘n toekomstige vrede in die gebied is ‘n enkel staat waar verskillende groepe mense ten minste as gelykes voor die wet beskou word. Jood, Palestyn, Christen en alle ander groepe woonagtig in die gebied, moet kan deelneem in dieselfde verkiesings. Verdedig word deur dieselfde militêre mag. Hulpbronne moet aangewend word ten bate van almal in die gemeenskap en nie oop- en toegedraai word as wapen nie.
In kort, Israel en Palestina moet saamsmelt en een nuwe land word. Met ‘n nuwe identiteit. Solank dit nie gebeur nie, sal daar nooit vrede oor daardie stukkie aarde heers nie.