Kroeskop vol geraas is ‘n uitmuntende debuut-album, met 13 snitte, opgeneem deur Riku Lätti van Wasgoedlyn Produksies.  Met die subtitel “Veldmuis/Stadsmuis” is Churchil se plan om  te fokus op 2 definitief verskillende style: Veldmuis = Akoesties/melodies/unplugged (6 snitte); Stadsmuis = Elektries/Harder Hiphop/Urban (6 Snitte) en dan is daar ‘n reggae rap “Onse Vaders” wat mooi tussen in val.

Churchil se woorde word as uitstekende poëtiese tekste beskou, wat nie wegskram van belangrike sosiale kwelpunte nie, dog is dit gemik op ‘n alledaagse gehoor en hoogs verstaanbaar en glad nie snobisties nie, bv.:

“Verdriet is ‘n guava juice bottel en genkem/ verdriet is us en them/ of dis my stem/ wat jy gaan hoor tot julle my tong uitsny met ‘n lem/ steel die ink in my pen/ maar die liefde gaan wen/ tot iemand my tyres pap steek/ en ek my wind uitblaas/ maar ou melk raak kaas/ die boy raak ‘n baas/ hulle sê hulle is moeg vir my gekerm want ek maak net geraas/ maar daai bliksems kan gaan doppies blaas/ want ‘n wind is soos ‘n kind hy raak ‘n vreeslike storm/ om my te stereotipeer is so normaal dis die norm/ is jy dom/ of is jou blerrie kop altyd kaal/ praat ek ‘n vreemde taal of laat ek julle verder in verdoemenis daal/ want verdriet is wat jy weet/ maar te bang is om te sê/ jy wil so graag net ‘n klein bietjie happiness hê/ maar verdriet dit infiltreer tot in die kooi wat jy lê.”

“Churchil se lirieke raak `n verskeidenheid onderwerpe aan. Hy rap oor iets so werklik kwellend soos die kultuur van huishoudelike geweld in ons land in sy treffer “Meisie”:  “meisie, jy wil dit glo as hy sê ‘I love you still’ / meisie, lyk my jy like dit om te hop as hy brul / meisie, hy se hy’s lief vir jou dan sluk jy die pil / meisie, gooi weg die sleutel girl en kap toe die grill” tot iets so groot soos die mens se eie eksistentialisme in sy lied “As” wat hy saam met Frazer Barry van Tribal Echo doen: “maak oop jou mind en raak onstlae van jou las / want as ons dood gaan is ons maar net as.”  En alhoewel hy ernstige sosiale probleme aan die strot gryp, is sy lewensuitkyk nietemin positief en sê hy aan ‘n gekwelde jeug: Daar is iets jy aan jou eie omstandighede kan doen.

Wasgoedlyn Produksies het onlangs ‘n Afrikaanse Musiekdokumentêre TV-reeks geskiet, waarin Churchil sterk na vore tree met onderhoude en optredes wat hom met gemak aan ‘n breë publiek gaan bekend stel.  

Churchil beplan om Afrikaans verder te vat as wat dit tot dusver kon gaan om dit ‘cool’ te maak, om ook stem te gee aan veral mense van die Kaapse vlakte. “Ek wil jong laaties wys dat ons nie die Amerikaners hoef na te boots nie want ons het ons eie stories om te vertel.”

Churchil Naude, nederige vader en skrynwerker van Mitchell’s Plain, gaan nog groot wees, soos Koos Kombuis gesê het.  “Dis net ‘n kwessie van tyd”, om Churchil se eie woorde te gebruik.