click to download or stream: hoop daai boom is oukei

Riku Lätti reik vanjaar ‘n splinternuwe dubbelalbum uit met 13 Afrikaanse liedjies onder die titel “Hoop daai boom is oukei” en 13 Engelse liedjies as sy Engelse eweknie, Victor S. Wolf met die titel Grace. Riku is bekend vir sy aanpak van uiteenlopende style, daarom is dit feitlik onmoontlik om die musiek op hierdie twee CDs te klassifiseer. Hy het kragte saamgesnoer met die Stellenbosch groep “Die Mark Tunes Band”, met Jean “Tunes” Marais op tromme en Mark Ellis op baskitaar. Die gevolg is ‘n energieke nuwe klank, of liewer klanke. Die titelsnit, Hoop daai boom is oukei is ‘n liefdesverhaal en spookstorie in een, wat weereens dui dat Riku nie bang is om uiteenlopende konsepte of klanke byeen te bring nie. Die album is rof dog rustig, kalm dog uitspattig. ‘n Letterlike fees van klanke, stories en mooi woorde.


Die album Grace, daarteenoor, bring ook ‘n heeltemal ander liedjieskrywer na vore. Ontmoet Victor S. Wolf. Heeltemal ‘n ander tipe liedjieskrywer as Riku Lätti. Selfs as sangers is Riku en Victor nie dieselfde mens nie. Terwyl Riku Lätti se werk uiteenlopende en eklekties is, is Victor Wolf se werk meer klassifiseerbaar as goeie ou popmusiek, dalk “adult contermporary” alhoewel daar hier en daar ‘n meer jeugdige klank na vore tree as mens luister na “Were we”, “You’re the virus” en “I can be”. Daar is bespeurlik minder wroeg by die musiek van Wolf as by Lätti, miskien is dit omdat die masker ‘n mens bevry van sy probleme. As Riku wil die skrywer sy wêreld verwoord en dit word ‘n persoonlike uitdaging. As Victor kan die skrywer net speel en alles word ‘n spel. Hoe dit ook al sy, hierdie dubbelplaat het letterlik iets vir elke gemoed en elke smaak.