heilig is die lewe

die geskenk van als wat is

dis die gawe ons gegewe

sodat ons ook lig kan sien

 

heilig is die sterre

die lig wat ons laat leef

ons is almal daar gebore

ons gaan almal weer terug

 

heilig is geboorte

die reinheid van nuut begin

welkomkrete van 'n boorling

laat 'n ouerhart weer sing

heilig om te sterwe

want dit dwing ons om te leef

dit heg waarde aan die lewe

dit heg waarde aan die dood

 

heilig is berge

want hul wys ons hoe klein ons is

met hul pieke in die wolke

maar hul voete op die grond

 

heilig is die winde

want hul waai ons sondes weg

hulle bring die nuwe wolke

hulle bring die nuwe reën

 

heilig is die water

wat ons was en wat ons is

heilig van die berge

heilig tot in die see