Ek nooi die somer in my jas

saggies waai die winde teen my vas

sit en luister na ‘n ou verhaal

sewe monde moet dit oorvertaal

 

‘m stem se woorde fyngemaal soos gras

soos mense dade eindigend in as

fluister nog ‘n storie in die wind

rondgewaai en eindelik lêplek vind

 

want elke keer as sewe winde waai

het ek opnuut die storielyn verraai

 

ontsnap soos water uit ‘n stoof

word woorde van betekenis beroof

sweef oor vreemde lande ver vandaan

want hier is al die ore lank gedaan

 

‘n soektog na ‘n wêreld van verstaan

‘n oomblik waar gedagtegang vergaan

nog steeds bly die somer uit my jas

nog steeds waai die winde teen my vas

 

want elke keer as sewe winde waai

het ek opnuut die storielyn verraai

 

ek nooi die somer uit my jas

saggies waai die winde teen my vas

sit en luister na ‘n ou verhaal

sewe winde moet dit oorvertaal

 

want elke keer as sewe winde waai

het ek opnuut die storielyn verdraai