Ek is Oupa, Oupa die Uil

Wat iewers in die donkerte skuil

In die nag is ek die wakkerste dier

Maar as die son opkom

Slaap ek die heel dag om

 

Ek kan baie goed sien met my oë

Ek kan muise in die nag opspoor

Maar die lekkerste ding om te eet

Is die blinde mol wat in die grond rond rol

 

Wie gaan daar – vra Oupa die Uil

Ek kan jou duidelik sien – sê Oupa die Uil

Daar agter die blaar – waaragter jy skuil

Ek het jou duidelik gewaar - so sê Oupa die Uil

Ek maak jou gou-gou gaar – mmh Oupa die Uil

In ‘n pot op my vuur – die vuur van Oupa die Uil

Met ‘n kaassousie – lipleklekker - En spaghetti

 

Ek is Manie, Manie die Mol

Wat onder in die grond in die donkerte rol

Ek is die blindste dier wat sing

Ek’s die stokblinde koning van die ondergrond

 

So sê ons Manie, Manie die Mol

Wat doen jy as die uil jou jag

O, as die Uil my jag in die nag

grou ek in die grond vir my ‘n donker gat

 

Ek grou gou hier – sê Manie die Mol

Dan grou ek daar – sê Manie die Mol

Ek maak ‘n groot molshoop – sê Manie die Mol

Met al die grond wat opstoot – sê Manie die Mol

Ek woon hier ondergronds – ondergronds

Waar geen Uil my kan sien – Uil my kan sien

Al gee jy my ‘n spieël – gee my ‘n spieël

Sal ek myself nooit kan sien – homself nooit sien