Ek droom ek is ‘n swaeltjie

wat vlieg in die hemelruim

Ek sweef bo-oor die wolke

Ek val en tol en styg weer op

 

Ek vlieg bo-oor die woude

oor berge en oor die groot, blou see

Ek sê dankie dat daar lug is

vir my vlerke en my vryheid

 

Ek woon in al die groot stede

In Berlyn, Parys en in Amsterdam

Ek’s naby alles wat ver is

Ek maak nes in die Kaap en Kroonstad

 

Saans as dit nag is

slaap ek in die hoek van jou stoep

in neste van modder en vere

klei en gras vir sagtheid en warmte

 

As ek droom vlieg ek na Wallis

om te kyk wat die bure maak

en môre as ek weer terug is

as ek wakker word, is ek weer Janneman