12Hz - Jean Marais & Riku Lätti
12Hz - Jean Marais & Riku Lätti

Europop in Afrikaans jean marais en riku lätti 12Hz
jip   6/24/2002 
Angola Badprop


``12 Hz is 'n alpha-wave . . . en dis f***en laag,'' sê Jean Marais en kyk na sy partner-in-crime Riku Lätti. Dis nou ter verduideliking waar die naam vir hul groep 12 Hz vandaan kom. 

``Jou brein se frekwensie is so 36 Hz as jy te lank voor jou rekenaar sit,'' gaan Riku voort. ``Dan speel jy vir mense 12 Hz tunes om alles weer normaal te kry.'' 

Riku Lätti is 'n man wat al 'n langerige pad loop op die plaaslike musiektoneel. Hy het verlede jaar vir homself begin naam maak in Afrikaanse geledere toe hy sy solo-album Pleister vir my Nerwe uitgereik het. Hy't selfs 'n Geraas Musiektoekenning vir Beste Alternatiewe Album daarvoor losgeslaan. 

Jean Marais was die voorsanger van die groep Duusman, toe hulle nog Afrikaanse feeste getrotseer het met hul unieke lirieke en perkussiewerk. Hy het opgepêl met Riku toe sy meisie eendag vir dié gehelp het om 'n musiekvideo te maak. 

Die ontmoeting was 'n grote, en die disko-duet wat daaruit voortgespruit het, gaan iets word om mee rekening te hou. Okei, disko-duet verdien 'n omskrywing, veral omdat Riku meestal bekend is vir alternatiewe folk en Jean in Duusman naamgemaak het met 'n heel ander klank as wat plaaslike musikante gewoonlik probeer. 

``Dis Europop in Afrikaans,'' vertel Riku. Hy het so 'n ruk gelede tot sy groot ontnugtering uitgevind daar is 'n Finse polka-sanger wat dieselfde naam as hy het. Die popmusiek wat hy en 12 Hz deesdae maak, is dus nader aan die Finse popkultuur as dié van die Finse ou sélf. 

Riku en Jean het aanvanklik saam begin om van Riku se songs te doen waar Jean sopraan saksofoon en backing vocals daarmee saam doen. 

``Funk folk live,'' beskryf die ouens dit. Dis tóé dat hulle reken backtracks kan moontlik aanvullend daarby wees, asook 'n ritme seksie (tromme en baskitaar). So gesê, so gedaan, en die ouens sit nou met 'n klank wat geen ander plaaslike musikant nog werklik kon ewenaar nie. Selfs nie eers dié wat beroemd is vir backtrack-gebruik nie. Hoekom? Want 12 Hz skryf hulle backtracks self. En volgens dié twee sal hulle die backtracks aanhou manipuleer om dit nóg interessanter te maak. 

Hulle gebruik nou ook die talente van Peter Auret op tromme en Anton Beukes op baskitaar. En die ouens het pret, want hierdie tipe popmusiek is iets wat jou nie teneergedruk maak of al jou konsentrasie vereis nie jy kan selfs 'n bietjie gatskud op hierdie vibes en sinnelose pret hê ook. 

``Daar's net 'n paar groepe soos ons wat getalle in hul name het,'' sê Jean. ``Soos Henry Ate . . .'' Almal lag.