Riku Lätti - foto Jacqui van Staden
Riku Lätti - foto Jacqui van Staden

EK stap met my masjiengeweer
Om te oordeel wat jy vra
Ek treur oor my Amerika
Die son sak neer oor haar
Uit: My Amerika van Riku Lätti

Riku Lätti - Aan't sterre tel
Die man se naam mag straks vir baie mense onbekend wees en ietwat on-Afrikaans klink, maar 'n paar heel skaflike Afrikaanse pop/rock-albums van hom het al die afgelope paar jaar ons CD-spelers getref.

Saam met Jean Marais (die eertydse sanger van die alternatiewe groep Duusman) het Lätti as die groep 12Hz ook 'n jaar of wat gelede 'n uitstekende popalbum, Nou, uitgereik.

Sy nuwe album, Aan't sterre tel, span egter die kroon. Dit is 'n uitstekende album propvol ewe skaflike musikale vakmanskap. Interessant is egter die onverwagte medewerkers aan die album.

Die musiek klink vars en funky en het selfs tipiese pop-ondertone. Dit takel ook 'n hele aantal hedendaagse issues (sommige politiek).

Sommer met die wegspring is dit die groot Amerikaanse leier wat gepak word in die jazz/funk-snit Oorlogtyd: "Daar is Bush / hy lyk woes / en almal dink hy is 'n . . ." Selfs sy groot vyand kry 'n bietjie simpatie: "Maar Saddam was die enigste lam / wat die arend wou vang / maar hy's wyd en die hele Irak / is met bomme beskyt."

Op die die snit Osama Bin Laden is dit nog 'n welbekende, Paul Riekert van Battery 9-faam, wat sy besonderse klankmengsels byvoeg met tipiese Battery 9-gevolge. Die hoogs onderskatte Liela Groenewald dra ook haar besonderse sangstem by.

Die verrassings hou egter nie hier op nie: Halfpad deur die snit Op die maan tref Laurika Rauch se unieke sangstem die luisteraar se ore. Selfs 'n geswore nie-weer-Laurika-nie-sinikus soos ek moet erken dat haar stem 'n onvergelykbare teenwoordigheid aan die snit verleen. Die kombinasie van haar en Lätti se uiteenlopende stemme maak Op die maan een van die album se uitstaansnitte.

Riku Lätti se nuwe album Aan't sterre tel is reeds geoormerk as een van Klankdig se groot hoogtepunte van die jaar.