Riku Lätti se groep op Oppikoppi
Riku Lätti se groep op Oppikoppi

Riku tel sterre
Jip   12/13/2004 
Angola Badprop


Riku Lätti is nie 'n man wat bang is om te eksperimenteer nie. Sy nuutse album, Aan't sterre tel , is nou uit en volgens hom het die fokus daarvan sommer binne een CD die heeltyd verander. 

Jy kan dit hoor ook. Een song is rustig, die volgende een bietjie meer funky en dan is daar sommer weer iets hardcore. Dis wanneer jy weet 'n ou is veelsydig, want hy bind hom nie net aan een styl vas nie. Dit het hy reeds bewys met sy vorige Pleister vir my nerwe , 'n album wat in verskeie opsigte heeltemal te underrated is as dit kom by cool Afrikaanse tunes. Vir die eerste keer is daar ook 'n vol band wat heeltyd hul staal wys. Talentvolle musikante saam met 'n talentvolle liedjieskrywer. 

Riku span hierdie keer ook kragte saam met verskeie ander kunstenaars, en dit is elke keer iets heeltemal nuut. Selfs hiermee is dit iets waarmee jy nie die ou kan peil nie. Hy sing op een saam met Laurika Rauch, op 'n ander saam met Paul Riekert en op nóg 'n ander saam met Liela Groenewald. Die effekte is nice, en die resultate ryk en melodies. Lätti het homself weer eens bewys as een van die beste Afrikaanse song skrywers in die land. Ons chat met hom oor hoe hy, wat gewoonlik maar op sy eie mission is, dit ervaar het om saam met ander kunstenaars kragte saam te span. 

Die saamspan met Laurika is iets waaroor hy aanvanklik swyg. Hierdie track, Op die maan , is maklik een van die mooiste songs op die CD. "Ek het haar gebel en gevra om saam met my op te neem," sê hy. "Toe lag sy vir my." 

Volgens Riku het Laurika gesê sy doen nie eintlik sulke goed nie, maar hy is welkom om vir haar te kom kuier. Hy het so gemaak en die laaste track op die CD, Deesdae , vir haar gespeel. Sy het so baie daarvan gehou dat sy toe ingewillig het om die ander song saam met hom te doen. 

"Sy sal nie sommer ja sê vir so iets nie," sê Riku, wat baie bly is hy het hierdie geleentheid gekry. "Sy hou van kwaliteit. Dis haar reputasie. Kwaliteit." 

Paul Riekert is 'n perd van 'n ander kleur. Riku lag en vertel hoe hy op hoërskool 'n fan was van Riekert se eerste band, Joos Tondeldoos en die Dwarstrekkers. 

"Dit was die eerste goeie band wat ek live gesien het," sê hy. 

Later het Riekert met Battery9 begin en Riku was steeds 'n fan. Nou sing hy op Riku se CD in 'n hardcore skreestem op die liedjie Osama bin Laden. Volgens Riku was Riekert baie gevlei omdat iemand vir 'n slag nie met sy boom box wou kragte saamspan nie, maar met sy stem. 

Liela Groenewald, die girl wat naam gemaak het omdat sy so baie saam met Koos Kombuis gesing het, is een van Riku se beste pêlle. Volgens hom het sy 'n "way" gehad om hom deel van haar lewe te maak. "Sy hang uit met mense wat iets in haar lewe beteken. Sy mors nie tyd nie," sê Riku. Sy sing saam op Soms. 

As jy met hom praat oor 'n algemene feel van die album sal hy vertel hoe 'n song soos Oorlogtyd chaos veroorsaak het oor hy net nie wou jel nie, of oor hoe 'n song soos Deesdae eintlik maar "homself geskryf het". 

Volgens hom is dit introspektief, maar dit gaan ook daaroor om nie kontak te maak met ander mense nie. Hy sukkel self om van sy eie lirieke te ontleed.  Die song "Medesyne Mens", gaan wel oor 'n heroïen addict wat een keer Riku se goed gesteel het. 

"Dis soos om deur 'n shopping centre te stap," sê hy. "Daar is die gevoel van konstante beweging soos by 'n groot paartie met baie mense. Jy sal almal wil ken, maar jy kan nie omdat hulle aanhou beweeg. Jy word 'n vreemdeling in die crowd. Jy raak so besig dat jou eie skaduwee nie kan byhou nie." 

• As jy nou wil sports check - Riku is ook die "President" van die website www.zimdollar.co.za. Hy skryf daar oor allerhande funky goed en steek die draak met die ouens wat scheme dat hulle hierdie land regeer. 


Riku Lätti (die enigmatiese President van www.zimdollar.co.za) se nuwe album Aan’t Sterre Kyk is pas vir die land gegee. ‘n Fyn en helder produk met vernuftige woordkartetse en ‘n hele paar skewe grynse onder die arties se snor. Jy gaan straks met ander oë kyk na Osama Bin Laden noudat Riku en Paul Riekert daarmee klaar is in die korrelrige “Osama Bin Laden”. 

“Oorlogtyd” is vinnig en glad. Jy gaan die lirieke soms so op die soom wil voltooi. Die toorsnit is “Op die maan” waar Laurika Rauch soos ‘n nuwe kleur in jou kop kom sit. Jy gaan so ‘n bietjie nederig voel. Luister maar self. In “Deesdae” is daar ‘n paar skaduwees met: “Deesdae is mense skaarser op straat, jy sit langs jou skadu soms as jy slaap, deesdae is winkels groter vermaak, spandeer al jou rande om vriende te maak.” Moenie jou laat flous deur die strooptitel “Smoorverlief” nie. Jy het nog nooit vir Riku Lätti so gehoor nie. En ja, as jy ‘n ontvanklike persoon in gedagte het vir hierdie lirieke, speel dit. Hard. Jy gaan doodgesoen word. 

En die stadige aanvang is ‘n verlokking. Wees gereed vir wanneer Peter Auret met tromme deur die voordeur kom val.