Riku Lätti - Oppikoppi
Riku Lätti - Oppikoppi

Riku se nuwe album poëties en progressief
Die Burger   8/28/2004 

Hy het die Geraas-prys vir die beste alternatiewe album gewen en hy spog met twee Sama-toekennings (beste Afrikaanse kontemporêre album en beste instrumentale album). 
Hierdie is reeds Riku Lätti se vyfde album. Dit word deur sommige resensente as die progressiefste album nóg in Afrikaans beskou. 

Riku is al bestempel as die man wat Afrikaanse musiek kan red. Hy steur hom nie aan reëls en persepsies nie. Hy keer holruggeryde musiekstyle die rug toe en skep bloot goeie kontemporêre popmusiek. 

Onbeskaamd: briljante kunstenaarskap, sensitiewe, deurdagte lirieke met soms 'n stukkie humor daarin verweef. Dié luim word gebalanseerd met erns gestut. 

Sy veelsydigheid -- suiwer ballades, smeulgladde jazz, kitaar kragtige akoestiese rock en elektroniese groefgedrewe eksperimente is indrukwekkend. 

Aan 't sterre tel bevat 13 boeiende snitte, almal uit sy pen, behalwe "Op die maan", met 'n bietjie Karen Zoid daarin. 

Inteendeel, Riku tél inderdaad (die) sterre hierop: van Laurika Rauch tot Liela Groenewald, Paul Riekert (van Battery 9) en Joos Tonteldoos en Die Dwarstrekkers. 

Die treffendste duet hierop -- en gewisse radiomatige treffer -- is "Op die maan" (Laurika Rauch). 

Die album is die ene luistervriendelike musiek -- ook "Smoorverlief", "Waar jy is", "Superman", "Soms", "Anders" en "Staar" -- verrassende musikale prentjies oor liefde en verhoudings: van ballade-verleiding tot aanhitsende ritmeprikkels. 

Met enersyds universele kapstokke ruk Riku die luisteraar die grieselrige werklikheid in met die snitte "Oorlogtyd", "My Amerika", "Deesdae" en, veral, "Osama bin Laden" (met die Battery 9-trefkrag). 

Riku ontsnap stagnasie en skep wyd treffende vernuwing met poëtiese Afrikaans en progressiewe klanke.