Riku Lätti, Jonathan Crossley, Peter Auret, Cesare Cassarino
Riku Lätti, Jonathan Crossley, Peter Auret, Cesare Cassarino

Laatnagsluiper wat ontdek
Beeld   2/16/2005 
Dirk Jordaan


Riku Lätti is een van daardie kunstenaars wat hoog aangeslaan word deur sy eweknieë in die bedryf - 'n kunstenaar se kunstenaar. 

Met goeie rede. 

Lätti is 'n bedrewe musikant, 'n liriekskrywer met 'n poëtiese aanslag en, as 'n bonus, 'n kunstenaar met 'n soekende geaardheid. 

Hy is 'n laatnagsluiper, 'n ontdekker van klanke en 'n vrye gees wat hom nie steur aan musiekneigings of platemaatskappye se maatstawwe oor gewildheid nie. 

Daarvan getuig sy 'n Pleister vir my nerwe (2001), meer eksperimentele Woknakwyf! (2001) en sy werk saam met Jean Marais van Duusman op 12Hz. 

Aan't sterre tel is egter sy beste werk tot dusver, moontlik omdat dit die eenvoudigste aanslag het van al sy albums. Die 12 snitte getuig van iemand wat die lewe belééf, maar ook oor die lewe nadink. 

Lätti het 'n paar gaskunstenaars nader getrek, soos die sangers Laurika Rauch, Liela Groenewald en selfs Paul Riekert. Die briljante jazz-kitaarspeler Jonathan Crossley doen ook diens. 

Die gevolg is 'n album vol verskeidenheid wat nie opdringerig of raserig is nie, maar 'n stewige en liriese platform skep vir sy woorde. 

Woorde soos "Ek sien ons het 'n kans verbeur, die konings het met ons god gespeel, hul woorde is van sin beroof, die skade is in die nuus geloof" (My Amerika) en "Agter die aarde wag, verlore ure, geduldig dag, breek weer aan, sleep my saam, lief het ek my oë vir jou gemaak" (Op die maan). 

Hy het ook begrip vir die waarde van 'n goeie chorus, wat die liedjies oorwegend baie toeganklik maak. 

Lätti is 'n belangrike liedjieskrywer vir moderne Afrikaanse musiek. Nou moet meer mense dit nog net besef. 


Lätti is vir twee GMT's benoem - in die kategorieë liedjieskrywer van die jaar en beste manlike solo-kunste naar.