Riku Lätti - foto: Anton Hammerl
Riku Lätti - foto: Anton Hammerl

JONK VARS EN OPWINDEND
De Kat   6/1/2001
Theunis Engelbrecht


Riku Lätti is 'n man wat nie skrik om 'n klavier se kap op te lig as hy ook dáár 'n nuwe klank kan optower nie. Dié sanger en lidjieskrywer het pas sy debuut-CD, "'n Pleister vir my nerwe", bekend gestel.

Dit het alles begin omdat hy verveeld was in die klankateljee waar hy so nou en dan gewerk het, vertel Riku Lätti oor sy debuut-CD, ‘n Pleister vir my nerwe, wat almal in vervoering het wat dit hoor. Sy klank is vars, eiesoortig en modern - popmusiek soos wat jy dit maar min in Afrikaans hoor.

“Ek het voorheen net gekonsentreer op Engelse musiek,” vertel hy. “In 1996 het ek egter ‘n Afrikaanse rock-kabaret geskryf wat ons opgevoer het in die Box Theatre by Wits, die Bassline in Melville en ook by die KKNK.

“Ek het doelbewus van soveel as moontlik musiekstyle gebruik gemaak op die CD, want ek wil vir die res van my lewe musiek maak,” sê hy. “Ek wil ook nie my luisteraars verloor as ek die dag iets nuuts probeer nie, daarom het kry mense wat ‘n Pleister vir my nerwe koop ‘n tweede CD, Woknakwyf, gratis. Daarop is van my meer eksperimentele werk.

“Ek werk saam met my vennoot, Peter Auret, ‘n klankingenieur en tromspeler, en hy hou sy oor op die grond om te hoor waarna mense graag luister. Ek skryf al die musiek; hy luister daarna en gee advies oor hoe ons die opneemproses moet benader, dan begin ons volstoom werk.”

Verskeidenheid is dan inderdaad wat ‘n mens aantref op ‘n Pleister vir my nerwe: van ballades met baie mooi melodieë (soos Onder jou asem, Verander en Jas - laasgenoemde snit is een van dié hoogtepunte op die album) tot vinnige liedjies, soos die funky Pleister en Agter my rug; die reggae-klanke van Vyand van die staat en die intense rap van Valley, wat handel oor ‘n gangster en met ‘n indrukwekkende straattaal-liriek spog. Dan is daar ook suiwer pop soos die liedjie Sterre, waarin Lätti die draak steek met die selfvoldane sterre op die TV-skerms.

Woknakwyf is uiters eksperimenteel en selfs avant-garde en bestaan uit baie lang atmosferiese instrumentale stukke (een se titel is Moet nooit die belangrikheid van goeie mondhigiëne onderskat nie). Die musiek op dié CD is nie so toeganklik soos dié op ‘n Pleister vir my nerwe nie en dit vat lank om daaraan gewoond te raak, maar as eksperiment bly dit nietemin interessant en laat ‘n mens dink aan die epiese werke van Pink Floyd.

Die produksiegehalte van albei CD’s is baie goed en die verwerkings uitstekend. Daar is geen ander musiek in Afrikaans wat so klink nie. Dit sal ‘n mens nie verbaas as Riku Lätti met dié CD Afrikaanse musiekprinse soos Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Valiant Swart van hul trone afskop nie.

En sy toekomsplanne? “Ek sal graag soveel as moontlik wil optree. Dan wil ek die volgende CD so gou as moontlik opneem sodat dit gereed is wanneer Pleister gaar is. En aan die eksperimentele kant het ek ‘n paar nuwe stukke begin opneem waarin ek byvoorbeeld ‘n klavier op die interessantste manier moontlik bespeel met keteltromstokkies op die oop snare, die klak van die pedale ge-amplify vir ritmes en die kas self vir perkussieklanke. Vir nog ‘n stuk het ek ‘n kosmaakproses opgeneem waarop ek die kombuisklanke opgesny het om allerhande ritmiese en melodiese diskoerse mee te bou.”

Omdat Suid-Afrikaanse platemaatskappye berug is daarvoor dat hulle geld en kommersialiteit baie belangriker ag as kreatiwiteit, vindindrykheid en oorspronklikheid, sal jy ‘n Pleister vir my nerwe nie sommer op die winkelrakke langs Patricia Lewis en André Schwartz aantref nie. Bel 083-652-7649 vir navrae.