Riku Lätti - foto Johannes Vogel
Riku Lätti - foto Johannes Vogel

Riku Lätti, elke dag anders
Rapport   6/5/2005 
Marenet Jordaan


Riku Lätti glo in natuurlike keuring. Gee vir almal wat wil 'n kans om 'n CD te maak - hoe meer hoe beter. 

"Die ding wat die regte koord slaan in al die chaos sal oorleef," sê dié 31-jarige musikant en internet-ontwikkelaar. "Mense gaan nie vir ewig na gemors luister nie." 

Hy glo ook dit is die beste manier om gehalte in Afrikaanse musiek te verseker. "Afrikaans was k*k toe ons hom beskerm het. Nou beskerm niemand Afrikaans nie en hy floreer." 

Lätti is vanjaar met 'n Geraas-musiektoekenning (GMT) as beste manlike kunstenaar bekroon vir sy CD Aan 't sterre tel. Hy het in 2001 ook 'n GMT ingepalm vir beste alternatiewe album vir Pleister vir my nerwe. 

Vir Aan 't sterre tel het hy saamgewerk met gaskunstenaars soos Laurika Rauch, Liela Groenewald en Paul Riekert. En Lätti-aanhangers kry op dié CD dertien oorspronklike liedjies uit Lätti se pen. 

Maar hy is nie net bekend as sanger en liedjieskrywer nie. Baie mense ken hom ook as "president" van die satiriese webruimte www.zimdollar.co.za. 

Lätti het dit sowat twee en 'n half jaar gelede begin "om pret te hê en twak te praat". 

"Hy het vervorm en iets nuuts geword," sê hy oor die groei van sy webwerf-kind. 

Deesdae het hy talle medewerkers en kan hy spog met lesers oorsee en plaaslike aanhangers soos Koos Kombuis. "Ek het van die beste minds op die internet bymekaar. Dit is buite my beheer . . . ek wil dit nie terughou nie." 

Ondanks sy draakstekery met enigiemand van George W. Bush tot Robert Mugabe - op sy webruimte en in sy musiek, sê Lätti hy is nie 'n "politieke" mens nie. "Ek is net oop vir argumente wat van allerhande plekke af kom." 

Hy is ook huiwerig om homself as 'n alternatiewe musikant te bestempel. "Ek beskou myself as populêr, want ek het langtermynplanne." 

Hy glo in elk geval die term "alternatief" is baie tydgebonde. "Môre is ek 'n ander mens as wat ek vandag is." 

Hy probeer glad nie om "anders" te wees nie. 

"Die belangrikste is om dit wat jy kan doen die beste te doen. En dan om eerlik met jouself te wees. Dan gaan jy nie klink soos 'n ander ou nie." 

Hy speel kitaar en klavier en beskou die toekennings wat hy al gekry het as aansporing om al hoe meer uitsette te lewer - eerder as 'n doel op sigself. "Dit gaan nie eendag op my grafsteen staan nie," spot hy. 

Hy was wel bly oor die geleentheid wat die oorhandigingseremonies hom gegee het om dankie te sê en vir die kuier saam met al die ander musiekmakers. 

Luidens sy persoonlike webwerf, www.rikulatti.co.za, is sy "lewensmissie om soveel musiek van die hoogste standaard met die verloop van my relatief kort aardse bestaan die lig te laat sien". 

Maar Lätti sê dit is vir hom nóg belangriker om ander mense te inspireer om iets te begin. 

"Ek is chuffed met wat ek sien by die jong bands." 

Hy bewys dit deur die erkenning wat hy gee aan Die Melktert-kommissie se kitaarspeler, Betsi van Zyl, met wie hy voor hierdie onderhoud gesit en stry het oor 'n nuwerwetse rekenaarskyf. 

Lätti, wat twee grade in filosofie aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal het, verdeel sy tyd tussen die internet en musiek - met die skaal wat deesdae 'n bietjie swaarder na die rekenaar se kant toe neig. 

Hy werk tans aan 'n opwindende nuwe projek vir die internet waaroor hy nie veel wil verklap nie. "Just do it, and explain later," sê hy. 

Hy skryf nie net vlymskerp lirieke nie, maar maak tussenin ook tyd vir sy grafiese kuns, wat as "Riku se meesterstukke" op sy webwerf vertoon word, tesame met sy woordkuns, wat hy sê "gedugte gedagtegedigte" is. 

Lätti het 'n huis in Linden, Johannesburg, maar sy groep se kitaarspeler het hom al geterg dat hy eintlik uit sy motor se bagasiebak leef. 

"Ek leef maar soos die wind my waai," lag hy.