Riku Lätti & Jean Marais - Oppikoppi
Riku Lätti & Jean Marais - Oppikoppi

Riku en Jean maak kraakvars klanke wat beïndruk
Die Matie   4/6/2002 
Borrie la Grange


As jy hou van "kunstenaars" wat lipsing en resensente moer, was Dorpstraat Teaterkafee beslis nie Woensdagaand die plek vir jou nie. Dié cosy plekkie het wrintiewaar lewe gekry met die kraakvars Afrikaanse klanke van musikante wat hou by die wortels van live musiek. 

Die manne verantwoordelik vir dié lewendige vermaak, Riku Lätti en Jean Marais, het sopas teruggekeer van suksesvolle optredes by vanjaar se KKNK. Hul debuut-album as die groep 12Hz, Nou, is van volgende maand af op die rakke. Toekennings Riku het verlede jaar die Geraas-toekening ontvang vir die beste album in die alternatiewe kategorie met sy debuut, Pleister vir My Nerwe. 

Jean was voorheen deel van daardie avant garde boogie band, Duusman. Die klanke wat hy uit sy saksofoon optower gee 'n verleidelike jazz-agtige atmosfeer aan die upbeat kitaargedrewe songs. Die meerderheid van die set het bestaan uit liedjies van Riku se album, met 'n paar nommers van die 12Hz projek. 

Genre-gewys sou dit 'n fout wees om Riku en Jean se musiek as rock te beskryf; dit het elemente van funk, folk en 'n lekker streep intelligente pop. Hoewel hulle hoofsaaklik Afrikaanse musiek maak, is Riku ewe gemaklik in Engels en sy spitsvondige lirieke beïndruk. Veral op "Suit" en "Pleister" is sy sosiale kommentaar tong-in-die-kies en op die man af. 

Dié twee menere het 'n gemaklike benadering tot shows, en daar word tussen songs geskerts oor winkelsentrums wat inmekaartuimel en die betreurenswaardige stand van Suid-Afrikaanse krieket. Daar was selfs 'n gratis aardrykskunde les danksy Riku: "Katmandu is die hoofstad van watter land?" vra hy. 

Halfpad deur "Verander" kom die antwoord: "Tibet!" Die gehoor lag en die song gaan voort. Jean lyk by tye soos 'n stout skoolseun op die verhoog met 'n ondeunde kyk in die oë, terwyl Riku die lekkerkry duidelik op sy gesig wys. Die twee geniet wat hulle doen.