RIKU HOU VAN RONDSPEEL
Jip   3/7/2001 
Angola Badprop


Die witrok besing die rooirok... 

"Jy met jou rooirok voor my ma se deur," sing die man in die wit Arabiese kleed op die kleinerige klub se verhoog. 

Dis besig vir Jo'burg (vir 'n aand met 'n Afrikaanse kunstenaar op 'n verhoog, bygesê) maar die mense sit vasgenael. "This is some cool stuff, although I don't understand a word," sê 'n ou kliphard hier langs my. Sy vriende skaterlag vir 'n paar sekondes en luister dan weer rustig voort. Hy begin met 'n liefieliedjie en sy band bly stil. Die mense sit meegesleur. 

Riku Lätti is 'n nuwe gesig op die Afrikaanse musiekfront. Hy chart reeds op RSG en Radio Tuks, so kyk uit vir hom. Die lede van sy band is gevestigde musikante, soos Peter Auret (tromme) en twee van die Henry Ate-manne, Max Mikula (lead kitaar) en Brendan Ou Tim (baskitaar). Sy dubbel-CD, "'n Pleister vir my nerwe" is reeds op die rakke. 

to listen to the album: 'n Pleister vir my Nerwe

"Ek maak nog glad nie geld uit my musiek nie," sê hy. Sy styl is meestal folk, maar Lätti glo in verskeidenheid. "'n Bietjie van dit en 'n bietjie van dat is gesond in hierdie stadium. Dit sal maak dat 'n mens aan 'n groter repertoire kan bou. Soos 'n hele program se folk vir 'n rustige gig of 'n lekker klomp rock as jy wil hê mense moet lekker dans. Ek hou van rondspeel." 

Riku het begin as kabaretskrywer. Hy het verlede jaar 'n suksesvolle toneelstuk "Plakaat van 'n persoon wat nie pas nie: die apatiese rebellie van Hansie Slim" na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gevat. Weer satire met 'n nuwe uitkyk op instellings. "'n Pleister vir my nerwe" is juis 'n sinspeling op die "patetiese gesondheidsbeleid in hierdie land", vertel hy. 

'n Man met issues, dus. Tussen instellings en Suid-Afrika se gesondheidsbeleid vat hy ook gansters aan. "My song, 'Die drama in die valley', dui op gansters. Dis ook hoekom dit meer rap in het. Daar is baie issues met sulke mense, van die VSA tot in die Wes-Kaap. Hulle is oral." 

En dan kom die integrasie met ou Afrikaanse songs ook by. "Dit het maklik by die musiek ingeval en dit was fun. Ek hou daarvan om dit nuut te gebruik. Dit sou stupid wees om te ontken waar dit vandaan kom." 

Riku Lätti werk reeds aan sy tweede album en daarna wil hy Holland toe. "Afrikaanse musiek is te dood in Johannesburg. Ek vir lank nie eerns geweet daar bestaan so iets hier nie. Maar my musiek lok steeds verskillende reaksies onder Engelse mense uit. Party hou daarvan, al verstaan hulle dit nie, en ander sê ek moet my goed vertaal sodat dit kan klink soos al die ander crap daarbuite." 

Maar die wit rok sal hy dra. "Ek wil nog enigiets van Jasser Arafat tot Sinbad-sailors by my show ingbring. Ek verstaan nie hoekom ons almal dit nie elke dag dra nie, dis dan so lekker gemaklik en koel." 


PLEISTER VIR MY NERWE 

Vir 'n verandering gebeur daar iets vars op die alternatiewe Afrikaanse front. Onthou net een ding jong kunstenaars: baie van hulle is nog nie in 'n sekere styl gevestig nie. Baie val nog rond tussen verskillende stuff. 

Soos Riku ook. Party songs is folk, party is rustige, laid back liefieliedjies, party is funkerig, party is blues. Daar is self 'n lekker funk-rap-treffer getiteld 'Die drama in die valley' en dan 'n kabaret-agtige satire getiteld 'Rooirok'. 

Natuurlik is die groter plan om eendag so veelsydig moontlik te wees. Die nadeel is net: jy gaan nie te veel mense op een slag kan please nie, so dis al waar "'n Pleister vir my nerwe" te kort skiet. Daar is nog 'n lekker paar tracks op die EP "Woknawyf!" ook. Soms word jy herinner aan Matthew van der Want, soms aan Prophet 'n bietjie aan Valiant Swart. 

Die musiek val rond tussen 'n wye verskeidenheid style wat Riku als opgedis het vir pretty much 'n gatskop-keurspel. Dié bra is jonk en nuut, maar hou hom dop - hy kan jou tref met 'n tweede poging wat dalk jou dak kan skud.