Riku Lätti - foto: Katvrou
Riku Lätti - foto: Katvrou


Jy gaan doodgesoen word...
Litnet   1/8/2005 
Katvrou


Riku Lätti (die enigmatiese President van www.zimdollar.co.za) se nuwe album Aan’t Sterre Kyk is pas vir die land gegee. ‘n Fyn en helder produk met vernuftige woordkartetse en ‘n hele paar skewe grynse onder die arties se snor. Jy gaan straks met ander oë kyk na Osama Bin Laden noudat Riku en Paul Riekert daarmee klaar is in die korrelrige “Osama Bin Laden”. 

“Oorlogtyd” is vinnig en glad. Jy gaan die lirieke soms so op die soom wil voltooi. Die toorsnit is “Op die maan” waar Laurika Rauch soos ‘n nuwe kleur in jou kop kom sit. Jy gaan so ‘n bietjie nederig voel. Luister maar self. In “Deesdae” is daar ‘n paar skaduwees met: “Deesdae is mense skaarser op straat, jy sit langs jou skadu soms as jy slaap, deesdae is winkels groter vermaak, spandeer al jou rande om vriende te maak.” Moenie jou laat flous deur die strooptitel “Smoorverlief” nie. Jy het nog nooit vir Riku Lätti so gehoor nie. En ja, as jy ‘n ontvanklike persoon in gedagte het vir hierdie lirieke, speel dit. Hard. Jy gaan doodgesoen word. 

En die stadige aanvang is ‘n verlokking. Wees gereed vir wanneer Peter Auret met tromme deur die voordeur kom val.