Hillbrow - Riku Lätti
Hillbrow - Riku Lätti

van die beste en varste stukkies Afrikaans
Heraut   9/21/2001 
Leo Kok


Artist : Riku Latti 
Album : ‘n Pleister vir my Nerwe (to listen to the album: 'n Pleister vir my Nerwe)

Alhoewel dié wat Afrikaanse shows buite die kunstefees-tye gaan kyk moontlik nie met my sal saamstem nie, wil dit tog voorkom asof daar wel ‘n era van oplewing aan die kom is in Afrikaanse musiek. Skielik verskyn nuwe kunstenaars by die dosyne, Karen Zoid, Spinnekop, Beeskraal ens., en word hulle vinnig opgeneem deur mense wat weer hulle patriotiese plig besef het, of wat moontlik net uiteindelik gevind het dat die kwaliteit van moderne Afrikaanse produksies kers vas kan hou by enige van die buitelandse produkte. 

Vir die lesers wat steeds twyfel is daar Riku Latti, Afrikaanse musiek se verskuilde ster. Sy debut CD, "‘n Pleister vir my Nerwe" het gesorg dat dié wat luidkeels die einde van alles nuut en kreatief in die Afrikaanse musiek voorspel het se mond nou finaal gesnoer is. 


Van die eerste oomblik verras hy die luisteraar met liedjies wat nie net uniek en luisterbaar is nie, maar terselftertyd ook spreek van die knaap se wye musiekkennis. Hy trek met hierdie CD uit soveel genres, ván Jazz en ‘n bietjie swing al die pad deur tot ‘n gangster-rap/funk nommertjie genaamd "Valley". Laasgenoemde is definitief ‘n hoogtepunt en een van die beste en varste stukkies Afrikaans wat in ‘n baie lang tyd sy kop uitgesteek het. 

Vir die wat dus lus is vir ‘n nuwe CD mag dit dalk ‘n goeie idee wees om in enige CD-winkel in te stap, sy CD op te tel en vinnig daarna te luister. Indien die eerste paar liedjies nie die nodige impak het nie, gaan na liedjie 13 en 14, haal jou beursie uit en koop. Jy sal sien, dit is só goed. 

‘n Pleister vir my Nerwe is waarskynlik een van die beste CD in Afrikaans en die aanbeveling is om nou te koop sodat jy, op die dag wanneer hy ‘n huishoudelike naam is, kan sê jy was een van sy eerste fans. Jy sal nie spyt wees nie. 

8/10