Riku en Spidey
Riku en Spidey

RSG speel sy musiek gereeld. TV-kykers het ‘n rapsie van sy bekroonde kunstenaarskap op Geraas, Kwêla, Die Casper Rasper Show en Die Liedjies Wat Ons Ken gesien. Hy’t die Oppikoppi-feesjollers omgetik en die resensente uitgeboul. Nou, danksy Select Musiek, kan jy Riku Lätti se spliternuwe album aan ’t sterre tel ervaar. 

Dit is reeds sy vyfde album. Die voriges was Me And Mr Sane (1997), ‘n Pleister Vir My Nerwe (2001), Woknakwyf! (2001) en Nou as 12Hz (saam met Jean Marais). Dié album is deur resensente as die mees progressiewe album nóg in Afrikaans bestempel. 

Riku is al beskryf as die man wat Afrikaanse musiek kan red. Hy steur hom nie aan die reëls en persepsies van en oor dié genre nie. Hy keer sy rug op die tradisie van holruggeryde musiekstyle en skep bloot góéie kontemporêre popmusiek. Onbeskaamd: briljante kunstenaarskap, sensitiewe, deurdagte lirieke met, soms, ‘n teug humor daarin verweef. Dié luim word gebalanseerd met erns gestut. 

Sy veelsydigheid – suiwer ballades, smeulgladde jazz, ghitaarkragtige akoestiese rock en elektroniese groefgedrewe eksperimente – is indrukwekkend: soos op die dubbel-album ‘n Pleister Vir My Nerwe ten toon gestel. Die tweede album in daardie verpakking, Woknakwyf! is ‘n instrumentale toonvenster van dié ster se musikale grensloosheid: die avant garde-elektronika van dans, trance en trip-hop. G’n einde aan talent hier nie! 

Die nuwe album, aan’ t sterre tel, bevat 13 boeiende snitte (waarvaan een “versteek” is); almal uit sy pen, behalwe Op Die Maan, met ‘n bietjie Karen Zoid daarin. Inteendeel, Riku tél inderdaad (die) sterre hierop: van Laurika Rauch tot Liela Groenewald, Paul Riekert (van Battery 9) en Joos Tondeldoos en Die Dwarstrekkers. 

Die treffendste duette hierop – en gewis radiomatige treffers – is Medisynemens en Op Die Maan (Laurika Rauch) – wat elkeen hul eiesoortige stembekoring en interpretasie-nuanses in sonderlinge stylstemminge verleen. Inteendeel, die album is gepak met luistervriendelike musiek: ook Smoorverlief, Waar is jy, Superman, Soms, Anders en Staar – álles verrassende musikale prentjies oor die liefde en verhoudings: van ballade-verleiding tot aanhitssende ritmeprikkels. 

Met enersyds universele kapstokke ruk Riku die luisteraar in die grieselrige werklikheid in met die snitte Oorlogtyd, My Amerika, Deesdae en, veral, Osama Bin Laden (met die Battery 9-trefkrag en Paul Riekert se rasperrêp!). In dié parodiesnit kry ‘n onskuldige kleurterrympie ‘n skokklap wat ver verby 7de Laan en Osama Bin Laden sidder. 

Die sogenaamde alternatiewe genre word dikwels gekenmerk aan rebelsheid en revolusie, maar in Riku se geval gaan dit eerder om begrip vir musikale tendensies en gepaardgaande verskuiwings. Hy ontsnap stagnansie en skep wydtreffende vernuwing met poëtiese Afrikaans en progressiewe klanke. Dit is bloot dêm góéie popmusiek deur ‘n filosoof wat sy wyn geniet. 

Die musikante 
Riku Lätti - stem, kitare en klawers 
Peter Auret - tromme, slaangoed en klawers 
Cesaré Cassarino - kitaar en baskitaar 
Rory Gaddin - kitare 
Jonathan Crossley - kitare